Laerskool Panorama

GELOOF & KENNIS

LAERSKOOL PANORAMA

Drama

By Laerskool Panorama moedig ons drama ten sterkte aan vir kinders. Nie net kry die leerders se selfvertroue, kommunikasie- en luistervaardighede ’n hupstoot nie, maar ook hul woordeskat.

Volgens ’n onlangse studie deur die Instituut vir Opvoeding in Engeland se eenheid vir gemeenskapsnavorsing het kinders wat aan drama deelneem meer selfvertroue in die klaskamer én in ’n sosiale konteks.

Die navorsers het drie jaar lank laerskole vergelyk wat drama vir kinders tussen die ouderdom van sewe en agt jaar aanbied en skole wat dit nie doen nie. Hulle het bevind eersgenoemde leerders het beter luister- en kommunikasievaardighede getoon. Daardie leerders se akademiese prestasie was ook beduidend beter, hulle het die skoollewe meer geniet en die waarde van spanwerk besef om ’n doelwit te bereik.

“Drama is fantasties vir selfbeeld, kreatiwiteit, spontaneïteit en konsentrasie,” sê Rozanne Myburgh, ’n dramaterapeut by die Lefika La Phodiso-instituut in Johannesburg. “Dit is ’n proses en kuns waar jy jou hele menswees, lyf en gees gebruik om jouself uit te druk. Dit help ook met geletterdheid, lees, begrip en skryf.”

Dramalesse word aangebied vir Seniors (Gr4 – 7) op ‘n Donderdagmiddag naskool vir ‘n uur lank en vir Juniors (Gr1-3) op ‘n Vrydagmiddag naskool tot 13:30. Ons het twee passievolle juffrouens wat in beheer is van altwee die dramaklasse. Enige leerder is welkom!