Voorwoord van die Hoof
My laerskoolloopbaan het ek voltrek by Laerskool De Tyger en ek het gematrikuleer aan die Hoërskool Tygerberg. Ek het Hoër Onderwys aan die Onderwyskollege Paarl en aan die Boland Onderwyskollege in Wellington studeer. Ek het my toe verder in die Bestuur van Onderwys aan die Universiteit van Suid-Afrika gekwalifiseer.
Ek het my onderwysloopbaan by Laerskool Mikro in Kuilsrivier begin en het daarna ‘n Departementshoofpos by Laerskool Hendrik Louw in die Strand aanvaar. Ek is na twee jaar as Departementshoof intern tot Adjunkhoof by Laerskool Hendrik Louw bevorder. Ek het daarna ‘n Adjunkhoofpos by Laerskool Paarl Gimnasium aanvaar, met die portefeulje van Uitvoerende Skoolbestuurder.
In 2012 is ek aangestel as Skoolhoof van Laerskool Panorama.
Ons belofte aan ons leerders is dat elke leerder uiters belangrik en geliefd is en dus sal ons ten alle tye poog om die beste onderwysers vir hulle aan te stel, om soedoende vir hulle die beste moontlike geleenthede te bied, asook die beste moontlike fasiliteite, ten einde optimale ontwikkeling en groei te verwesenlik.
Die personeel is ’n gemotiveerde, positiewe span wat saamstaan om ons huidige standaarde te behou en daarop te verbeter. Ons stel hoë verwagtinge en standaarde aan ons leerders met genoegsame geleenthede om hulle te bemagtig op verskillende terreine. Ons span onderwysers bou aan hulle selfbeeld en karakters, deur ons waardes; Respek, Lojaliteit, Omgee, Regverdigheid, Betroubaarheid en Verantwoordelikheid, by elke leerder in te skerp.
Alhoewel die kernbesigheid by elke skool akademie is, moet skole ook gebalanseerd wees wanneer dit kom by akademie, sport en kultuur. Sport en kultuur speel ’n belangrike rol in die holistiese opvoeding van elke kind. Dit is belangrik dat elke ouer hul kind motiveer om aan sport en kultuur deel te neem. Dit gaan veral oor positiewe gesindheid en waardes, wat binne sport en kultuur opgesluit lê, wat uiteindelik dan bydra tot die ontwikkeling van die kind in totaliteit. Kinders het nodig om te leer hoe om deel te vorm van ‘n span. Hulle het nodig om te weet dat elkeen van hul nie dieselfde postensiaal het nie, maar as hulle saam werk, kan hulle hul volle potensiaal bereik.
By Laerskool Panorama glo ons in die sterk band tussen die ouer en die onderwyser. Ons is uiters trots op ons ouers. Ouers vervul ‘n noodsaaklike rol rakende die opvoeding en ondersteuning van hul kinders en daarom moet ouers tyd maak vir hul kinders se opvoeding. Ouers se belangstelling en hulp gee aan hul kind die fondasie waarop hul kan bou om ‘n standvastige karakter te ontwikkel. Tyd is vandag so beperk, maar die belangstelling by die huis rakende akademie; die vaslegging en beklemtoning van waardes en houdings, en die ondersteuning tydens sportbyeenkomste en kultuurbyeenkomste, verseker die geborgenheid by ons leerders.
Dit is ook van kardinale belang dat die skoolgemeenskap die uniekheid van Laerskool Panorama sal koester en die kultuur van uitnemendheid sal behou. Ons is trots om ‘n skool van diversiteit te wees waar leerders van verskillende tale, kulture, rasse en gelowe geakkommodeer word en ons as diverse skool harmonieus ons jeug kan bemagtig. Hier by Laerskool Panorama word ons kinders geleer om mekaar te respekteer en om te bou aan ‘n beter toekoms. Met die eerste groot tree in die sekulêre wêreld, sal dit ons kinders se “Geloof en Kennis” wees wat hulle sal bystaan met ‘n positiewe uitkyk op die lewe.
Ons gemeenskap kan ‘n verskil maak en daarom nooi ons die gemeenskap uit om deel te vorm van ons strewe na uitnemendheid en sodoende ‘n baken te bly wat suksesvolle jong manne en jong vroue die wêreld instuur.
Panorama groete
Anton Mostert